Skade deur blaaspootjies onderdruk groei en hou ernstige finansiële implikasies vir die boer in. Daarom is bestryding uiters belangrik.
Landbouweekblad, 2 Desember 2021
Blaaspootjies ( in Engels thrips) is een van die grootste plae in die landbou. Besmetting vind op die belangrike tye van nuwe blom, vrugvorming en loofgroei plaas wanneer sagte plantmateriaal aanloklik vir die insekte is.
Die skade wat veroorsaak word, wissel van groei-onderdrukking tot ernstige kosmetiese skade aan vrugte, met groot verliese vir die produsent.
Die blaaspootjie se lewensiklus word in die blare voltooi, met belangrike fases wat vooraf in die grond plaasvind. Dit is die pre-papie- en papiefase wat volwassene insekte lewer wat na die sagte blare vlieg. Met warm temperature vind die siklus in minder as 10 dae plaas, wat daartoe lei dat daar deurlopend nuwe volwassenes ontwikkel.
KORREKTE SPUITPROGRAM
Spuitprogramme wat op die blare gemik is, tref die volwassene, asook die eerste en tweede instar, maar nie die eier in die blaar en die twee papiefases in die grond nie. Die gevolg is dat nuwe volwassenes binne ’n paar dae hul verskyning maak en die besmetting voortsit. Dit vereis ’n intensiewe spuitprogram elke drie dae vir ten minste drie toedienings om die besmetting te bestry.
Om die siklus egter doeltreffend te verbreek, is dit noodsaaklik dat die twee grondfases geteiken word. Die beste resultate word verkry deur te begin voordat die blaaspootjiegetalle die hoogte inskiet (sien die SKETS ).
RealIPM se middel Real Metarhizium ICIPE 69 (Real Met69, reg.nr. L9581, Wet 36 van 1947) word in die grond met spuite of deur besproeiing toegedien om die twee grondfases te bestry. Real Met69 vestig in die wortels van die plante en dekgewasse en word maandeliks in die groeityd aangevul om die swamgetalle hoog te hou. Die gebruik van dekgewasse en deklae in ’n Real Met69-program bevoordeel die werking van die swam en die doeltreffendheid van natuurlike en vrygelate blaaspootjievyande.
Die kommersieel beskikbare RealIPM roofmyte Amblyseius cucumeris (bestry grondfases) en Amblyseius montdorensis (bestry blaarfases) word suksesvol saam, asook as deel van ’n Met69-grondtoedieningpro-gram, gebruik aangesien Real Metarhizium nie die roofmyte laat vrek nie.
RESULTATE
Die resultate vir ’n bloubessieblaaspootjie-navorsingsprojek word in die GRAFIEK aangedui. Real Met69 bied soortgelyke bekamping as chemiese middels, met die verskil dat daar geen maksimum residuvlakke is nie. Blaaspootjies kan dus regdeur die seisoen tot oestyd bestry word.
Begin jou doeltreffende, geïntegreerde plaagbestrydingsprogram met Real Metarhizium as anker.