Die pad na Charl de Villiers (Oom Charl) se plaas lê besaai met klein ronde klippies. Dit is die gevolg van ‘n bolaag wat van sy plaas geskraap is deur ‘n diamantmaatskappy in hul soeke na diamante. Die klippies lê opgehoop langs die pad en rondom die basisse van witgatbome (‘n beskermde boom endemies tot hierdie gebied). Al stampende beweeg ons voort, verby metaalgeraamtes van masjienerie wat deur die mynmaatskappy agtergelaat is, verlate, sonder enige rede en idee wanneer hulle dit moontlik sal herwin of die omgewing gaan rehabiliteer. Dit is ‘n tragiese werklikheid en ons kon nie die verskil glo in die verandering in die landskap aan die anderkant van die bult op pad na Oom Charl se werkende plaas vol lewe nie.

Oom Charl, alreeds ‘n oupa, boer vir meer as 40 jaar op Remhoogte, in die distrik Prieska. Gedurende die 1990’s het Oom Charl, as ‘n jongboer, Brazilië besoek waar hy blootgestel is aan alternatiewe boerderymetodes -- wat onder andere geen bewerking (“no tilling”) ingesluit het. Dit, tesame met sy misnoë met die metode om na-oes mieliereste te verbrand, ‘n kortpadmetode om mielie-plantmateriaal te bestuur, het sy benadering tot boerdery verander. Die tradisionele manier om in die Noord-Kaap, asook in baie ander mielieverbouende gebiede, mielies te verbou, is om te plant, te oes, te brand, te bemes en dan weer die siklus te herhaal. Oom Charl het besluit om vir homself doelwitte te stel, doelwitte waarmee ander boere gespot het. Hy het die praktyk om mieliereste te verbrand, gestaak, en die plantmateriaal toegelaat om op hul eie ‘n vorm van bemesting en deklaag te word. Dit was die begin van sy pad na ‘n herlewingsboerdery. Oom Charl het begin eksperimenteer met ‘alternatiewe boerderymetodes’, gebaseer op die onderstaande Plantgesondheid Piramiede wat deur die internasionaal-erkende boer, John Kempf, ontwikkel is.

Krediet vir die beeld:
Die beginsel van die Plantgesondheid Piramiede behels die volgende: ‘Soos wat grond en gewasse verander as gevolg van herlewingsboerderypraktyke, vorder hulle deur fases van toenemende beter gesondheid. Die vordering na beter gesondheid herstel die plant en die grondstelsels se natuurlike en biologiese vermoëns. Gedurende hierdie proses weerspieël plante ‘n toenemende verbetering in immuniteit teen patogene wat deur die grond en lug oorgedra word, hulle het ‘n beter weerstand teen insekte, het ‘n verhoogde produksie van plantvette wat aanleiding gee tot sterker selmembrane vir smaakliker vrugte met ‘n langer raklewe, en so meer.’
Oom Charl het met elke daaropvolgende jaar meer en meer metodes ondersoek om ‘n geïntegreerde boerderyprogram te volg. Hy het geëksperimenteer met kompostegnieke op sy lande, benutting van oorblywende mieliereste, sowel as voortgesette ontleding van sy pekanneutplantasies se voedingsvlakke (grond teenoor blare). Sy diepliggende begrip van plantgesondheid, tesame met sy onversadigbare nuuskierigheid en liefde vir die natuur, ondersteun sy strewe na verhoogde plantgesondheid, wat uiteindelik lei tot verbeterde plaasgesondheid. Op hierdie pad het realIPM sy-aan-sy met Oom Charl gewerk deur hom van advies te bedien ten opsigte van grondgesondheid, mikrobegesondheid en die belangrike rol van voordelige insekte.


Oom Charl se benadering het hom in staat gestel om sy gebruik van bemesting (kunsmis) met tot soveel as die helfte van die gemiddelde toedienings van die omliggende plase te verminder – dit is ‘n ongelooflike besparing in terme van insetkoste. Verder is dit nie nodig om bespuiting te doen teen plae soos rooispinmyt nie. Sommige mag beweer dat die uitskakeling van bespuiting onmoontlik is – rooispinmyt is ‘n algemene plaag in daardie omgewing en ‘n besmetting kan vir boere bykomstige insetkoste beteken (toediening van chemiese insekdoders). Skade as gevolg van rooispinmyt het ‘n laer oesopbrengs tot gevolg. Oom Charl verduidelik dat die buitensporige hoë temperature in sy area tot verhoogde stres by plante lei. Daarom is dit nodig om plante te ondersteun. Hiervoor gebruik hy ‘n verskeidenheid voedingsprodukte van realIPM, insluitende bykomende humate. Die belangrike faktor is minder stikstof (kunsmis). Deur slegs die helfte van die gemiddelde kunsmistoediening te gebruik, is sy plante onder minder stres en dus minder aanloklik vir plae soos rooispinmyt, wat aangelok word deur hoë vlakke van sekere stikstofverbindings in verswakte plante wat onder stres verkeer.
Oom Charl verduidelik dat hy deur sy eie navorsing bevind het dat sy plante se voedingsopname verder verbeter het deur die pH van die Oranjerivier se water te verlaag. Die algemene opvatting is dat hoër dosisse van bemesting ook die pH van die water verlaag, maar die nadeel is dat dit terselfdertyd die vernietiging van die natuurlike mikrobes tot gevolg het. Laasgenoemde help met die produksie van mikrovoedingstowwe wat die plant benodig vir optimale groei. Produkte soos AminoK kan gebruik word om die pH van die water te verlaag sonder om natuurlike mikrobes te benadeel. Verder gebruik Oom Charl ook ‘n wye reeks biologiese produkte van realIPM, insluitende Bacillus, Trichoderma en humate.

Soos wat ons deur Oom Charl se pekanneutboorde ry, merk ons dorperskape op wat tussen die bome wei. Oom Charl verduidelik dat hy die skape toelaat om die dekgewasse tussen die bome te vreet. Die skape hou nie net die onkruide onder beheer nie, maar verskaf ook gratis bemesting. Sy beeste word soortgelyks toegelaat om in sy spilpuntdekgewasse te wei met dieselfde voordele.
Soos wat ons deur Oom Charl se uitgebreide landerye beweeg, ry ons, volgens Oom Charl, deur een van die oudste pistachioboorde in die land. Sover ons ry, merk ons wat die impak van sy herlewingsboerderypraktyk is. Benewens die hoë en welige mielies, spog die plaas ook met ‘n klein kleuterskool, ‘n projek in samewerking met die plaaslike boerderygemeen- skap. By navraag waaraan Oom Charl sy sukses toeskryf, antwoord hy dat dit nie slegs om wins gaan nie. ‘Dit is soveel meer: dit is ‘n gesonde omgewing, skoon water, gesonde grond, ‘n gelukkige huis en personeel, en eers dáárna volg wins.’ Sy houding jeens sy plaas, die manier waarop hy herlewingsboerdery benader, is vandag duidelik op die plaas sigbaar – jare van klein veranderinge wat optimale opbrengste tot gevolg gehad het, met min tot geen grondbewerking, sonder oormatige bemesting, of die gebruik van skadelike insek- doders – alles in skrille kontras tot die vernietigende uitwerking van die myn se aktiwiteite oorkant die bult.